2550… Die Oom
ek wil net vir jou baie dankie sê
toe ons na die baie baklei alleen was
het my mammie baie gehuil
haar oë was rooi en dof
ons budgie was ook alleen
maar sy het vrolik gesing
en haar oë het geblink
ons was baie bang toe die band
in die nag gebars het
maar oom het ons gehelp
en agter ons gery
ek wil net weer vir oom
baie dankie sê
oom het my geleer fietsry
ons het piekniek gehou
oom het saam met my netbal gespeel
my ma se oë het geblink
en sy het in die kombuis gesing
terwyl sy vir ons kosgemaak het
oom het langs die atletiekbaan geskree
vir my toe het ek gewen
dit was oom se wen gewees
ek het dit vir oom gedoen
omdat oom my ma se oë laat blink
en ons budgie sing ook baie meer
dankie vir die mooi matriekafskeidrok
my ou sê ek was die mooiste meisie
maar oom ek het gesien
oom het daardie aand gehuil
toe ek mamma vra
of oom ongelukkig is
sê sy nee
die oom se vrou en dogter
is in ‘n motorongeluk dood
sy dogter was net so oud soos jy
Leave a Reply
Be the First to Comment!